04 September 2025

Hou Nieu-Seeland groen

Een van my gunsteling-dinge in Nieu-Seeland (en daar's baie...!), is hoe maklik dit is om hier jou deel vir Moederaarde te doen. Die sisteme en konsepte is in plek en hulle wérk - my veldkind-hart is opgewonde om sy klein deeltjie hier maklik te kan doen! Hier's 'n paar van my gunsteling groen-inisiatiewe in ons area:

  • Glas, karton, papier en drie soorte plastiek word twee-weekliks by jou huis opgelaai vir herwinning. Jy hoef net die spulletjie te sorteer en die drom op die sypaadjie te sit en voilà! Die sorteerdery is wel moeite, maar na nege jaar in Nieu-Seeland het ons 'n lekker sisteem in plek en kan selfs my liewe man uiteindelik onthou wátter tipe plastiek in wátter houer kom.
  • "Soft plastics" soos broodsakkies en lekkergoedpakkies kan nie deur bogenoemde sisteem herwin word nie. Dit kan egter by supermarkte in spesiale "soft plastics recycling bins" geplaas word vir herwinning.
  • Meeste van die groter parke en speelplekkies het asdromme wat apart voorsiening maak vir gewone rommel en herwinbare rommel. Glasbottels, plastiekbottels, papier, ens. word in aparte dromme gegooi vir herwinning.
  • Ons stadsbiblioteek bied 'n opsie vir battery-herwinning. Gooi bloot jou gebruikte huishoudelike batterye in die houer in die biblioteek se voorportaal - dis maklik en gratis!
  • Sommige kruidenierswinkels bied die opsie om metaaldeksels van glasbottels (dink grondboontjiebotter en gherkins) gratis te herwin. Maak 'n klompie bymekaar, was dit mooi skoon en gooi dit in die spesiaal gemerkte houer in die winkel se voorportaal.
  • 'n Spul plastiek items vir eenmalige gebruik is relatief onlangs in Nieu-Seeland verban: Plastiek-inkopiesakke (verban in 2019), plastiese roer-stokkies en oorstokkies (verban in 2022), polistireen wegneem-ete houers (verban in 2022), plastiek enkelgebruik varsprodukte-sakkies (verban in 2023), plastiekstrootjies (verban in 2023), en nie-komposteerbare varsprodukte-etikette (verban in 2023, maar met 'n uitfasseer-periode tot in 2025). 
  • "Op shops" of tweedehandse winkels is groot in Nieu-Seeland en ons is mal daaroor! Liefdadigheidsorganisasies soos die Rooikruis, DBV en Heilsleër het dikwels winkels waar tweedehandse klere en meubels verkoop word vir fondse. "Thrifting" het een van my en my tienerdogter se gunsteling tydverdrywe op 'n Saterdag-oggend geword - ons snuffel heerlik in die "op shops" rond terwyl ons kuier en klets. En ek het 'n lieflike amper-nuwe resepteboekversameling om te wys daarvoor!
  • Groot elektroniese herwinningsmaatskappye bied gereeld "e-waste drop-off days" aan. Ou, onbruikbare skootrekenaars, selfone en tablette kan dan gratis afgelaai word (in 'n drive-thru, nogal! Jy hoef nie eers uit jou kar uit te klim nie) en enige wins wat gemaak word uit parte gaan aan liefdadigheid. 
  • Ons streeksmunisipaliteit of council, soos hulle dit hier noem, bied elke jaar in September 'n reeks gratis werkswinkels aan vir Sustainable September/Sustainable Spring. Ek het verlede lente herwinnings- en kompos-werkswinkels bygewoon, en geleer hoe om my eie omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels te maak. Lekker!
  • Ons dorp het nie minder nie as víér little free libraries! Dis klein houtkassies, en in een geval 'n ou, ongebruikte busstop, wat deur lede van die publiek in gratis klein bibliotekies omskep is. Die perfekte plek om rond te snuffel vir nuwe leesgoed, of om ongebruikte leesgoed weer aan die gemeenskap terug te skenk!

  • Om groot items weg te gooi in Nieu-Seeland is dúúr! Hier bestaan nie iets soos om bakkie-vragte vol tuinvullis en ander gemors gou gratis op 'n ashoop te gaan gooi op 'n Saterdag-oggend nie - jy betaal per volume of massa vir alles wat jy by die ashoop, oftewel "transfer station" of "tipping station" weggooi. Om hierdie kostes te probeer vermy, het Kiwi's met 'n slim plan vorendag gekom: Sit die meubels, matrasse, speelgoed, en eetgerei wat jy nie meer wil hê of gebruik nie voor jou huis op die sypaadjie met 'n handgeskrewe "free" bordjie. Dit wérk! Ek onthou nog die vreugde toe ons vir die eerste keer 'n lendelam ou spieёlkas op die sypaadjie gesit het en dit binne 'n halfuur deur iemand opgepik is. Dis tog lekker om te weet iemand anders kan weer nuwe lewe gee aan iets wat jy op 'n ashoop sou laat vergaan het! 
  • Ons buurdorp het 'n "bicycle library" - wat 'n wonderlike konsep! 'n Span afgetrede omies en tannies kom weekliks by die stadsaal bymekaar, waar hulle ou fietse wat deur die gemeenskap geskenk word, diens en regmaak. Dié fietse word dan per jaar aan lede die gemeenskap uitverhuur teen 'n minimale bedrag. Jy kan enige tyd jou gehuurde fiets terugvat om gratis reggemaak of gediens te word, en wanneer jou kinders hulle gehuurde fietse ontgroei, kan jy dit bloot net omruil vir groteres! 

Ek moes egter ook al, tot my groot frustrasie, leer dat nie almal ewe entoesiasties is oor die groen stand van sake in ons mooi, nuwe land nie. Een aand laat in Pak n Save, terwyl ek piesangs weeg vir die kinders se kosblikke die volgende dag, leun 'n ouerige Kiwi-omie kordaat oor my trollie se rant terwyl hy die inhoud daarvan fyn bekyk. "What are those?" vra hy en wys na my katoen vars produkte-sakkies. "They're re-usable produce bags. Better for the environment than single-use ones," verduidelik ek moeg. Sy antwoord? "Man, I'm glad I'm not married to you...!". Sug. Ditto, liefste omie. Ditto!


28 Augustus 2025

Warm Afrika-bloed

Ná nege jaar in Nieu-Seeland kan ons al amper-amper deurgaan as volwaardige Kiwi's. Ons verorber feijoas by die sakvol, ons sit ons ongebruikte meubels op die sypaadjie met handgemaakte "free"-bordjies wat wapper in die wind, en ons gebruik die geykte "nice day for it!" en "good on ya!" meer as wat ons boere-harte eintlik wil. Daar is egter een plek waar ons nog week vir week uitstaan soos 'n seer duim: Ons plaaslike parkrun. Verál in die winter.

Ons het destyds in die lente in Nieu-Seeland aangekom, so aanvanklik was die verskil nie so ooglopend nie. Daardie somer was buitengewoon nat, maar warm, so ons het moeiteloos saam met die massas gesmelt terwyl ons giggelend deur die modderplasse gly. Maar, soos die dae koeler geword het, en die winter langer, het die verskil naweek vir naweek al hoe duideliker geword: Ons boere-lywe hanteer nou maar eenmaal net die koue ánders. 

Neem nou maar die geharde ou sening van 'n Kiwi-omie in sy sewentigs, wat elke Saterdag getrou op sy parkrun pos is. Elke Saterdag, winter en somer, is sy drafuitrusting presies dieselfde: 'n Kort, klein polyshort-broekie en 'n moulose frokkie uit die 90's. Geen warm top vir voor die tyd nie, en geen handskoene vir 'n bietjie hitte terwyl hy hardloop nie. Altyd nét die broekie en die frokkie. Op dae wat die temperatuur by vriespunt draai, voeg die omie darem een item by sy uitrusting: 'n kleurvolle wolmus. Maar dié haal hy af nog voor die wegspringskote eers geklap het. 

En dis nie net die omie nie. Elke snerpende winters-Saterdag kom kaal-arm en kaalbeen Kiwi's van kwart-voor-agt af gesels-gesels uit alle rigtings aangedrentel. Niemand knip 'n oog oor die ryp wat wit lê op die gras nie, en niemand soek skuiling teen die ysige reёndruppels wat dwarrel in die wind nie. Dis maar net nóg 'n doodgewone nice day for it.  

Ek en my liefste man, daarenteen, met ons warm Afrika-bloed, skuil knus in die kar tot die laaste moontlike sekonde. Met 'n minimum van twee lae hemde, pofbaadjies, handskoene, en die langste oefenbroeke in ons besit, sit ons warm en broei onder een van die kinders se ou baba-kombersies tot die oomblik wat die aankondiger begin keelskoonmaak. Ná nege jaar van akklimatisering kan ek amptelik rapporteer dat daar nog géén noemenswaardige teken van vordering op die gebied van kouebestandheid is nie. Miskien volgende winter...?

Dinge lyk egter belowend vir die nuwe geslag Kiwi Potgieters. Ons jongste, nou elf, het hierdie jaar begin aandring daarop om met 'n kortbroek in die winter skool toe te gaan. En om, soos die res van die Kiwi-kinders, jillend oor die ryp te skaats met beentjies wat pienk is van die koue tot net voordat die skoolklok lui. "I'm just built different, Mum!"... Nou, ja. Daar's helaas hoop...!


21 Augustus 2025

Die biltong-bottel

So twee of drie jaar ná ons in Nieu-Seeland aangekom het, het een van my man se destydse Kiwi-kollegas gevra of ons nie asseblief hulle huis oor die Kerstyd sal oppas nie. Ons kinders was op daardie stadium nog klein, so my eerste reaksie was "goeiste, nee...!". Om vir 'n week of twee van sonsopkoms tot sonsondergang te probeer keer dat taai klein handjies aan 'n ander man se deftige meubels vat is glad nie my idee van 'n rustige, vreedsame Kersvakansie nie. Maar, die kollega het aanhou vra en ter wille van goeie werksverhoudings het ons besluit om tóg maar op die ou-end in te stem. 

'n Week voor die vakansie het die kollega en sy metgesel - twee lieflike mense - ons oorgenooi vir middagete om te wys hoe alles in die huis werk en te verduidelik wátter troeteldier hóéveel kos wánneer moet kry. Synde dit amper Kersfees was, en ons ook mooi deur ons moeders geleer is om nooit leë hande iewers op te daag nie, het ons begin dink aan 'n geskenkie om saam te vat na die ete toe. Iets kleins, maar spesiaals, wat sê "geseënde Kersfees!" en "dankie vir die lekker ete!", alles in een. Die enigste probleem was egter dat die kollega 'n hele paar posvlakke bo my liefste man was en hulle huis 'n droomkasteel in een van die mees gegoede woonbuurte in die stad was. Wat op aarde koop 'n mens vir iemand wat létterlik alles het...?

In die dae voor die ete het ons omtrént kopgekrap oor dié geskenk. 'n Mooi bos blomme? Nee, want hulle vertrek binnekort met vakansie. 'n Lekker restaurant-geskenkbewys? Nee, want hulle eet inelkgeval gereeld uit. Donkersjokolade...? Ai, dis so alledaags...! En toe tref dit my... Biltong! Uniek en spesiaal en allesbehalwe alledaags. Perfek.

So sit ons toe af na die ete toe met 'n mooi, groot glasbottel vól gekerfde biltong as geskenk; Kers-lintjie en handgeskrewe nota, de lot. Onder normale omstandighede kan ons gesin lag-lag groot volumes biltong in 'n kort tydjie verorber, maar, na vele dreigemente en kwaai kyke, het die bottel die uurlange rit oorleef en ongeskonde by ons bestemming aangekom. 'n Verbode bottel vol heerlikheid tussen vier kwylende, droёbek Afrikaners.

Met groot opgewondenheid dra ons die biltong-bottel in die kollega se tuinpaadjie af. As hulle maar net weet van die lekkerte wat wag! Ons lui die voordeurklokkie en sommer met die intrapslag bring ons die bottel te voorskyn... "Merry Chrismas!". Maar instede van opgewonde glimlagte word die bottel begroet deur vraagteken-fronse wat wys dat ons goedbedoelde boere-kleinood hulle totaal en al uitgeboul het. Die skok, verwarring en afgryse op ons arme gasheer en gasvrou se gesigte sal ek nooit vergeet nie. Tussen vervaarde verduidelikings van "dried, raw meat" en "it's really quite good" het ek daardie dag besef dat nie alle hartsgoed ooit deur ander verstaan of waardeer sal word nie. En dis tog doodnormaal. Dis dan júís wat kultuurverskille is en vorm 'n onafwendbare en totaal verwagte deel van immigrant-lewe. Die geheim (en uitdaging?) bly dan seker om dié dinge wat vir jóú boere-hart kosbaar en spesiaal is, te bly koester, terwyl jy ook ruimte te gee en aanvaar dat ánder dinge weer vir ánder harte kosbaar en spesiaal is...?

'n Week later, toe huis-oppastyd uiteindelik aanbreek, het ons die biltong-bottel eensaam en verworpe diep in 'n donker hoekie agter in die kollega se yskas ontdek. Onoopgemaak en onaangeraak. En vóór in die yskas? 'n Half-opgesmulde boks donkersjokolade. Nota aan myself: Koop volgende keer die donker tjoklits...!


14 Augustus 2025

Mamma en die grassnyer

Een van die eerste dinge wat ons in Nieu-Seeland opgeval het, is die feit dat jy selde of ooit 'n man sien grassny. Hier vat die tannies voor. Gewapen met oorproppe en waterstewels stoei die moeders moedig voort terwyl die manne wie weet waarmee besig is.

Stoere Afrikaners, het ons aanvanklik neus opgetrek vir dié volksvreemde onding. Die man sny die gras en basta! Maar, soos die tyd aangestap het en my liefste man se werkslading groter geword het, het ek stil-stil begin wonder of ek nie tóg maar by die grassny-tannies moet aansluit nie. Hoe moeilik kan dit mos nou wees?  

En so, een sonnige somers-oggend, met Pappa by die werk en die kinders by die skool, sleep ek huiwerig ons groot ou petrol-grassnyer nader. Want wat sal dan nou 'n lekkerder verrassing wees vir Pappa as 'n kort-gesnyde grasperk...? Die verrassingselement was egter ook die grootste swakplek in my plan, want tot en met daardie oomblik het ek nog nooit in my lewe my hand aan 'n grassnyer gewaag nie. Tussen die piepklein instruksie-plakkertjie op die handvatsel en my gesonde verstand moes ek genoeg vaardigheid bymekaarskraap om alleen die spreekwoordelike wa deur die drif trek.

Die vaal-verweerde plakkertjie se instruksies was eenvoudig genoeg: Draai die klep oop. Pomp die swart knoppie drie keer. Trek die slinger dat jy bars. En in daardie volgorde. Maklik! Half-hurkend agter die heining, sodat die buurman nie my poging moet aanskou nie, val ek toe met gefokusde oorgawe weg. Draai die klep oop. Check. Pomp die swart knoppie drie keer. Check. Trek die slinger dat jy bars... Niks. Trek die slinger weer. Nogsteeds niks. Og. 

Wat die plakkertjie nagelaat het om akkuraat oor te dra, is die feit dat jy jou bene stewig weerskante van die agterwiel moet plant, die grassnyer se handvatsel met 'n doodsgreep in jou linkerhand moet vasvat, en dan met jou regterhand die toutjie moet pluk of jou lewe daarvan afhang. Dís beter. In 'n brullende stofwolk, met 'n glimlag wat bars van trots, sny ek toe vir Pappa die verrassing van die jaar los. Sónder oorproppe en waterstewels, want ek's 'n boerkind van Afrika. 

Noem my sommer die grassny-tannie!



07 Augustus 2025

Wat is in 'n naam...?

Met 'n van soos Potgieter en 'n nooiensvan soos Van der Merwe, het ek vroeg-vroeg vrede gemaak met die feit dat 'n eksotiese familienaam my nou eenmaal nie beskore is nie. As dit by vanne kom, is ons s'n plat en alledaags, soos bruinbrood en Vandermerwe-grappies.  

Min het ek geweet wat wag... Die een ding waaroor ons sekerlik meer as enige-iets anders giggel in Nieu-Seeland, is presies hóé moeilik ons boere-van op Kiwi-ore val. Van Potter tot Potts, Pottinger tot "I'm not even going to try and pronounce that", het ons al alles gehoor. Wel, alles behalwe Potgieter. Ons is letterlik oornag bevorder van alledaags tot onuitspreeklik eksoties.

Om 'n voorskrif by die apteek af te haal, klink dalk soos 'n kleinigheid; iets wat vinnig en sonder voorval afgehandel behoort te word. Maar nie as jou van Potgieter is nie. Dis 'n heen-en-weer gespellery van die voorste formaat. Blykbaar klink 'n Engelse "P" in ons boere-aksent altyd soos 'n Kiwi "B"...? Jip. Ons kom nie eers moeiteloos verby die eerste letter nie. Mettertyd het ons darem slim geword en deesdae betree ons nét die apteek gewapen met 'n vorige voorskrif of 'n handgeskrewe nota met ons name duidelik in blokletters uitgespel.

Die pastoor se goedbedoelde "turn to your neighbour and quickly introduce yourself" Sondag-oggende voor die kerkdiens het vir ons ook vinnig-vinnig in 'n tameletjie verander. Want daar is hoegenaamd niks "quick" aan die proses wat dit verg om jou Afrikaner-naam aan 'n niksvermoedende mede-kerkganger te verduidelik nie. Veral nie met klawerbordmusiek wat luidkeels in die agtergrond dreun nie. My liefste man se oplossing vir ons penarie was om homself as Will voor te stel. Kort vir Wilhelm. Maklik mos! Maar, met sy swaar Noord-Kaapse aksent, het nie eers dít gewerk nie. 

"Hi, I'm Will." 

"Wal?"

"No, not Wal. Will."

"Ohhhhhh. Bill. Hi, Bill."

Ai, die frustrasie. Noem hom sommer Bill Pottinger. 

En hoewel 'n aangesig-tot-aangesig naam-gespellery problematies is, eskaleer 'n telefoongesprek met dieselfde doel dinge tot kort duskant katastrofies. So is ons al by 'n hotel, waar ons telefonies bespreek het, ingewag as die Popgieter-familie. En, tot groot vermaak van die hele gesin, het 'n pakkie wat Pappa telefonies bestel het, opgedaag geadresseer aan "Wilheelm Totgieter"... 

Een ding is seker: Ons sal nooit 'n terkort hê aan dinge om oor te giggel nie. Alles danksy ons oneksotiese boere-van.



31 Julie 2025

Ons storie

Nege jaar terug, amper tot op die dag, het ons ons oё toegeknyp en gespring die vreemde in. Goeiste weet, dit was nie altyd maklik nie. En, soos enige immigrant sekerlik kan beaam: Dis nogsteeds nie altyd maanskyn en rose nie. Maar een ding weet ek wel: Vir óns was dit die regte besluit. Ons is waar ons moet wees. Boere-aksente, Springbok-lojaliteite en al.

So waarom het ons besluit om ons jong gesinnetjie - met Boeta destyds nog in die doeke en Sussie darem al 'n sin of twee in Engels magtig danksy Peppa Pig - te ontwortel en te kom plant in die Land van die Lang, Wit Wolkie? Soos vir meeste ander in dieselfde bootjie het dit vir ons maar grootliks oor die veiligheid en toekoms van ons kinders gegaan. Ek was siek en sat vir koerantopskrifte wat gruwels uitbassuin. Vir die konstante bakleiery en negatiwiteit. Vir die angstige geklou aan handsakke, doeksakke en kinders in die winkels. En vir lief-en-dierbare Kimberley se gaar waterpype wat ons kort-kort daaraan herinner het dat lopende water en spoeltoilette inderdaad 'n seёn en voorreg is waarvoor 'n mens elke dag op jou knieё behoort te gaan van dankbaarheid.

Was die skuif vir ons die moeite werd? 'n Duisend maal ja. Ons kinders drentel kaalvoet kafee toe vir koeldrank saam met maatjies. Ek draf vrou-alleen die vlaktes vol sonder om kort-kort oor my skouer te loer en te wonder of iemand my agter die volgende bos lê en inwag. Ons het krag. En water. Altyd. En ek kan nie eers onthou wanneer ek laas diefwering gesien het nie. 

'n Drawwersparadys.

Was die skuif maklik? Glad nie. Dit was 'n totale oorbegin op soveel vlakke. Met net ons tasse, die klere aan ons lywe, harte vol vasberadenheid, en genade op genade van Bo, het ons stadig maar seker begin wortel skiet. Vir ons eerste jaar hier het ons - karloos - voetgeslaan in die aanhoudende, gietende reёn. Ons het kruideniersware met die bus gaan koop - 'n chaotiese mini-sirkus van kermende kleuters, 'n oorweldigde moeder, en heeltemal te veel sakke en te min hande. Ons het die vreugde ontdek van tweedehands koop - goed vir Moederaarde, en nóg beter vir 'n platter-as-plat immigrant-sak wat spook om die kinders se klere- en speelgoedkaste vol te hou. Alles dinge waaraan ons nou terugdink met dankbaarheid vir les op kosbare, harde les.

Dis waar wat hulle sê: Immigrasie is nie vir sissies nie. Maar tog, in al die aanpas, vasbyt, trane, moedeloosheid, amper-opgee en wéér probeer lê daar 'n rykdom van lesse en 'n immerteenwoordige genade wat ek vir niks verruil nie. Ons harte is dankbaar!