Nege jaar terug, amper tot op die dag, het ons ons oё toegeknyp en gespring die vreemde in. Goeiste weet, dit was nie altyd maklik nie. En, soos enige immigrant sekerlik kan beaam: Dis nogsteeds nie altyd maanskyn en rose nie. Maar een ding weet ek wel: Vir óns was dit die regte besluit. Ons is waar ons moet wees. Boere-aksente, Springbok-lojaliteite en al.
So waarom het ons besluit om ons jong gesinnetjie - met Boeta destyds nog in die doeke en Sussie darem al 'n sin of twee in Engels magtig danksy Peppa Pig - te ontwortel en te kom plant in die Land van die Lang, Wit Wolkie? Soos vir meeste ander in dieselfde bootjie het dit vir ons maar grootliks oor die veiligheid en toekoms van ons kinders gegaan. Ek was siek en sat vir koerantopskrifte wat gruwels uitbassuin. Vir die konstante bakleiery en negatiwiteit. Vir die angstige geklou aan handsakke, doeksakke en kinders in die winkels. En vir lief-en-dierbare Kimberley se gaar waterpype wat ons kort-kort daaraan herinner het dat lopende water en spoeltoilette inderdaad 'n seёn en voorreg is waarvoor 'n mens elke dag op jou knieё behoort te gaan van dankbaarheid.
Was die skuif vir ons die moeite werd? 'n Duisend maal ja. Ons kinders drentel kaalvoet kafee toe vir koeldrank saam met maatjies. Ek draf vrou-alleen die vlaktes vol sonder om kort-kort oor my skouer te loer en te wonder of iemand my agter die volgende bos lê en inwag. Ons het krag. En water. Altyd. En ek kan nie eers onthou wanneer ek laas diefwering gesien het nie.
Was die skuif maklik? Glad nie. Dit was 'n totale oorbegin op soveel vlakke. Met net ons tasse, die klere aan ons lywe, harte vol vasberadenheid, en genade op genade van Bo, het ons stadig maar seker begin wortel skiet. Vir ons eerste jaar hier het ons - karloos - voetgeslaan in die aanhoudende, gietende reёn. Ons het groceries met die bus gaan koop - 'n chaotiese mini-sirkus van kermende kleuters, 'n oorweldigde moeder, en heeltemal te veel sakke en te min hande. Ons het die vreugde ontdek van tweedehands koop - goed vir Moederaarde, en nóg beter vir 'n platter-as-plat immigrant-sak wat spook om die kinders se klere- en speelgoedkaste vol te hou. Alles dinge waaraan ons nou terugdink met dankbaarheid vir les op kosbare, harde les.
Dis waar wat hulle sê: Immigrasie is nie vir sissies nie. Maar tog, in al die aanpas, vasbyt, trane, moedeloosheid, amper-opgee en wéér probeer lê daar 'n rykdom van lesse en 'n immerteenwoordige genade wat ek vir niks verruil nie. Ons harte is dankbaar!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking