Met 'n van soos Potgieter en 'n nooiensvan soos Van der Merwe, het ek vroeg-vroeg vrede gemaak met die feit dat 'n eksotiese familienaam my nou eenmaal nie beskore is nie. As dit by vanne kom, is ons s'n plat en alledaags, soos bruinbrood en Vandermerwe-grappies.
Min het ek geweet wat wag... Die een ding waaroor ons sekerlik meer as enige-iets anders giggel in Nieu-Seeland, is presies hóé moeilik ons boere-van op Kiwi-ore val. Van Potter tot Potts, Pottinger tot "I'm not even going to try and pronounce that", het ons al alles gehoor. Wel, alles behalwe Potgieter. Ons is letterlik oornag bevorder van alledaags tot onuitspreeklik eksoties.
Om 'n voorskrif by die apteek af te haal, klink dalk soos 'n kleinigheid; iets wat vinnig en sonder voorval afgehandel behoort te word. Maar nie as jou van Potgieter is nie. Dis 'n heen-en-weer gespellery van die voorste formaat. Blykbaar klink 'n Engelse "P" in ons boere-aksent altyd soos 'n Kiwi "B"...? Jip. Ons kom nie eers moeiteloos verby die eerste letter nie. Mettertyd het ons darem slim geword en deesdae betree ons nét die apteek gewapen met 'n vorige voorskrif of 'n handgeskrewe nota met ons name duidelik in blokletters uitgespel.
Die pastoor se goedbedoelde "turn to your neighbour and quickly introduce yourself" Sondag-oggende voor die kerkdiens het vir ons ook vinnig-vinnig in 'n tameletjie verander. Want daar is hoegenaamd niks "quick" aan die proses wat dit verg om jou Afrikaner-naam aan 'n niksvermoedende mede-kerkganger te verduidelik nie. Veral nie met klawerbordmusiek wat luidkeels in die agtergrond dreun nie. My liefste man se oplossing vir ons penarie was om homself as Will voor te stel. Kort vir Wilhelm. Maklik mos! Maar, met sy swaar Noord-Kaapse aksent, het nie eers dít gewerk nie.
"Hi, I'm Will."
"Wal?"
"No, not Wal. Will."
"Ohhhhhh. Bill. Hi, Bill."
Ai, die frustrasie. Noem hom sommer Bill Pottinger.
En hoewel 'n aangesig-tot-aangesig naam-gespellery problematies is, eskaleer 'n telefoongesprek met dieselfde doel dinge tot kort duskant katastrofies. So is ons al by 'n hotel, waar ons telefonies bespreek het, ingewag as die Popgieter-familie. En, tot groot vermaak van die hele gesin, het 'n pakkie wat Pappa telefonies bestel het, opgedaag geadresseer aan "Wilheelm Totgieter"...
Een ding is seker: Ons sal nooit 'n terkort hê aan dinge om oor te giggel nie. Alles danksy ons oneksotiese boere-van.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking