04 September 2025

Hou Nieu-Seeland groen

Een van my gunsteling-dinge in Nieu-Seeland (en daar's baie...!), is hoe maklik dit is om hier jou deel vir Moederaarde te doen. Die sisteme en konsepte is in plek en hulle wérk - my veldkind-hart is opgewonde om sy klein deeltjie hier maklik te kan doen! Hier's 'n paar van my gunsteling groen-inisiatiewe in ons area:

  • Glas, karton, papier en drie soorte plastiek word twee-weekliks by jou huis opgelaai vir herwinning. Jy hoef net die spulletjie te sorteer en die drom op die sypaadjie te sit en voilà! Die sorteerdery is wel moeite, maar na nege jaar in Nieu-Seeland het ons 'n lekker sisteem in plek en kan selfs my liewe man uiteindelik onthou wátter tipe plastiek in wátter houer kom.
  • "Soft plastics" soos broodsakkies en lekkergoedpakkies kan nie deur bogenoemde sisteem herwin word nie. Dit kan egter by supermarkte in spesiale "soft plastics recycling bins" geplaas word vir herwinning.
  • Meeste van die groter parke en speelplekkies het asdromme wat apart voorsiening maak vir gewone rommel en herwinbare rommel. Glasbottels, plastiekbottels, papier, ens. word in aparte dromme gegooi vir herwinning.
  • Ons stadsbiblioteek bied 'n opsie vir battery-herwinning. Gooi bloot jou gebruikte huishoudelike batterye in die houer in die biblioteek se voorportaal - dis maklik en gratis!
  • Sommige kruidenierswinkels bied die opsie om metaaldeksels van glasbottels (dink grondboontjiebotter en gherkins) gratis te herwin. Maak 'n klompie bymekaar, was dit mooi skoon en gooi dit in die spesiaal gemerkte houer in die winkel se voorportaal.
  • 'n Spul plastiek items vir eenmalige gebruik is relatief onlangs in Nieu-Seeland verban: Plastiek-inkopiesakke (verban in 2019), plastiese roer-stokkies en oorstokkies (verban in 2022), polistireen wegneem-ete houers (verban in 2022), plastiek enkelgebruik varsprodukte-sakkies (verban in 2023), plastiekstrootjies (verban in 2023), en nie-komposteerbare varsprodukte-etikette (verban in 2023, maar met 'n uitfasseer-periode tot in 2025). 
  • "Op shops" of tweedehandse winkels is groot in Nieu-Seeland en ons is mal daaroor! Liefdadigheidsorganisasies soos die Rooikruis, DBV en Heilsleër het dikwels winkels waar tweedehandse klere en meubels verkoop word vir fondse. "Thrifting" het een van my en my tienerdogter se gunsteling tydverdrywe op 'n Saterdag-oggend geword - ons snuffel heerlik in die "op shops" rond terwyl ons kuier en klets. En ek het 'n lieflike amper-nuwe resepteboekversameling om te wys daarvoor!
  • Groot elektroniese herwinningsmaatskappye bied gereeld "e-waste drop-off days" aan. Ou, onbruikbare skootrekenaars, selfone en tablette kan dan gratis afgelaai word (in 'n drive-thru, nogal! Jy hoef nie eers uit jou kar uit te klim nie) en enige wins wat gemaak word uit parte gaan aan liefdadigheid. 
  • Ons streeksmunisipaliteit of council, soos hulle dit hier noem, bied elke jaar in September 'n reeks gratis werkswinkels aan vir Sustainable September/Sustainable Spring. Ek het verlede lente herwinnings- en kompos-werkswinkels bygewoon, en geleer hoe om my eie omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels te maak. Lekker!
  • Ons dorp het nie minder nie as víér little free libraries! Dis klein houtkassies, en in een geval 'n ou, ongebruikte busstop, wat deur lede van die publiek in gratis klein bibliotekies omskep is. Die perfekte plek om rond te snuffel vir nuwe leesgoed, of om ongebruikte leesgoed weer aan die gemeenskap terug te skenk!

  • Om groot items weg te gooi in Nieu-Seeland is dúúr! Hier bestaan nie iets soos om bakkie-vragte vol tuinvullis en ander gemors gou gratis op 'n ashoop te gaan gooi op 'n Saterdag-oggend nie - jy betaal per volume of massa vir alles wat jy by die ashoop, oftewel "transfer station" of "tipping station" weggooi. Om hierdie kostes te probeer vermy, het Kiwi's met 'n slim plan vorendag gekom: Sit die meubels, matrasse, speelgoed, en eetgerei wat jy nie meer wil hê of gebruik nie voor jou huis op die sypaadjie met 'n handgeskrewe "free" bordjie. Dit wérk! Ek onthou nog die vreugde toe ons vir die eerste keer 'n lendelam ou spieёlkas op die sypaadjie gesit het en dit binne 'n halfuur deur iemand opgepik is. Dis tog lekker om te weet iemand anders kan weer nuwe lewe gee aan iets wat jy op 'n ashoop sou laat vergaan het! 
  • Ons buurdorp het 'n "bicycle library" - wat 'n wonderlike konsep! 'n Span afgetrede omies en tannies kom weekliks by die stadsaal bymekaar, waar hulle ou fietse wat deur die gemeenskap geskenk word, diens en regmaak. Dié fietse word dan per jaar aan lede die gemeenskap uitverhuur teen 'n minimale bedrag. Jy kan enige tyd jou gehuurde fiets terugvat om gratis reggemaak of gediens te word, en wanneer jou kinders hulle gehuurde fietse ontgroei, kan jy dit bloot net omruil vir groteres! 

Ek moes egter ook al, tot my groot frustrasie, leer dat nie almal ewe entoesiasties is oor die groen stand van sake in ons mooi, nuwe land nie. Een aand laat in Pak n Save, terwyl ek piesangs weeg vir die kinders se kosblikke die volgende dag, leun 'n ouerige Kiwi-omie kordaat oor my trollie se rant terwyl hy die inhoud daarvan fyn bekyk. "What are those?" vra hy en wys na my katoen vars produkte-sakkies. "They're re-usable produce bags. Better for the environment than single-use ones," verduidelik ek moeg. Sy antwoord? "Man, I'm glad I'm not married to you...!". Sug. Ditto, liefste omie. Ditto!


1 opmerking: