Ná nege jaar in Nieu-Seeland kan ons al amper-amper deurgaan as volwaardige Kiwi's. Ons verorber feijoas by die sakvol, ons sit ons ongebruikte meubels op die sypaadjie met handgemaakte "free"-bordjies wat wapper in die wind, en ons gebruik die geykte "nice day for it!" en "good on ya!" meer as wat ons boere-harte eintlik wil. Daar is egter een plek waar ons nog week vir week uitstaan soos 'n seer duim: Ons plaaslike parkrun. Verál in die winter.
Ons het destyds in die lente in Nieu-Seeland aangekom, so aanvanklik was die verskil nie so ooglopend nie. Daardie somer was buitengewoon nat, maar warm, so ons het moeiteloos saam met die massas gesmelt terwyl ons giggelend deur die modderplasse gly. Maar, soos die dae koeler geword het, en die winter langer, het die verskil naweek vir naweek al hoe duideliker geword: Ons boere-lywe hanteer nou maar eenmaal net die koue ánders.
Neem nou maar die geharde ou sening van 'n Kiwi-omie in sy sewentigs, wat elke Saterdag getrou op sy parkrun pos is. Elke Saterdag, winter en somer, is sy drafuitrusting presies dieselfde: 'n Kort, klein polyshort-broekie en 'n moulose frokkie uit die 90's. Geen warm top vir voor die tyd nie, en geen handskoene vir 'n bietjie hitte terwyl hy hardloop nie. Altyd nét die broekie en die frokkie. Op dae wat die temperatuur by vriespunt draai, voeg die omie darem een item by sy uitrusting: 'n kleurvolle wolmus. Maar dié haal hy af nog voor die wegspringskote eers geklap het.
En dis nie net die omie nie. Elke snerpende winters-Saterdag kom kaal-arm en kaalbeen Kiwi's van kwart-voor-agt af gesels-gesels uit alle rigtings aangedrentel. Niemand knip 'n oog oor die ryp wat wit lê op die gras nie, en niemand soek skuiling teen die ysige reёndruppels wat dwarrel in die wind nie. Dis maar net nóg 'n doodgewone nice day for it.
Ek en my liefste man, daarenteen, met ons warm Afrika-bloed, skuil knus in die kar tot die laaste moontlike sekonde. Met 'n minimum van twee lae hemde, pofbaadjies, handskoene, en die langste oefenbroeke in ons besit, sit ons warm en broei onder een van die kinders se ou baba-kombersies tot die oomblik wat die aankondiger begin keelskoonmaak. Ná nege jaar van akklimatisering kan ek amptelik rapporteer dat daar nog géén noemenswaardige teken van vordering op die gebied van kouebestandheid is nie. Miskien volgende winter...?
Dinge lyk egter belowend vir die nuwe geslag Kiwi Potgieters. Ons jongste, nou elf, het hierdie jaar begin aandring daarop om met 'n kortbroek in die winter skool toe te gaan. En om, soos die res van die Kiwi-kinders, jillend oor die ryp te skaats met beentjies wat pienk is van die koue tot net voordat die skoolklok lui. "I'm just built different, Mum!"... Nou, ja. Daar's helaas hoop...!
Nee my suster, 19 jaar in Swakop en ek kry elke winter NOG kouer en dra net NOG meer klere (my kleintjie ook minder...) Geen hoop hier, koud is koud! Xxxxxxx
AntwoordVee uitHeheeeeee! Nee, my suster, hoe die mechanics werk, weet ek nie, maar al wat ek weet is dat ons net GLAD nie so kouebestand soos die Kiwi's en die Britte is nie. Snaaks, want ons het tog grootgeword met Bloemfontein se -6, -7 grade winters-oggende...? Interessant! xxxxxxx
AntwoordVee uit