So twee of drie jaar ná ons in Nieu-Seeland aangekom het, het een van my man se destydse Kiwi-kollegas gevra of ons nie asseblief hulle huis oor die Kerstyd sal oppas nie. Ons kinders was op daardie stadium nog klein, so my eerste reaksie was "goeiste, nee...!". Om vir 'n week of twee van sonsopkoms tot sonsondergang te probeer keer dat taai klein handjies aan 'n ander man se deftige meubels vat is glad nie my idee van 'n rustige, vreedsame Kersvakansie nie. Maar, die kollega het aanhou vra en ter wille van goeie werksverhoudings het ons besluit om tóg maar op die ou-end in te stem.
'n Week voor die vakansie het die kollega en sy metgesel - twee lieflike mense - ons oorgenooi vir middagete om te wys hoe alles in die huis werk en te verduidelik wátter troeteldier hóéveel kos wánneer moet kry. Synde dit amper Kersfees was, en ons ook mooi deur ons moeders geleer is om nooit leë hande iewers op te daag nie, het ons begin dink aan 'n geskenkie om saam te vat na die ete toe. Iets kleins, maar spesiaals, wat sê "geseënde Kersfees!" en "dankie vir die lekker ete!", alles in een. Die enigste probleem was egter dat die kollega 'n hele paar posvlakke bo my liefste man was en hulle huis 'n droomkasteel in een van die mees gegoede woonbuurte in die stad was. Wat op aarde koop 'n mens vir iemand wat létterlik alles het...?
In die dae voor die ete het ons omtrént kopgekrap oor dié geskenk. 'n Mooi bos blomme? Nee, want hulle vertrek binnekort met vakansie. 'n Lekker restaurant-geskenkbewys? Nee, want hulle eet inelkgeval gereeld uit. Donkersjokolade...? Ai, dis so alledaags...! En toe tref dit my... Biltong! Uniek en spesiaal en allesbehalwe alledaags. Perfek.
So sit ons toe af na die ete toe met 'n mooi, groot glasbottel vól gekerfde biltong as geskenk; Kers-lintjie en handgeskrewe nota, de lot. Onder normale omstandighede kan ons gesin lag-lag groot volumes biltong in 'n kort tydjie verorber, maar, na vele dreigemente en kwaai kyke, het die bottel die uurlange rit oorleef en ongeskonde by ons bestemming aangekom. 'n Verbode bottel vol heerlikheid tussen vier kwylende, droёbek Afrikaners.
Met groot opgewondenheid dra ons die biltong-bottel in die kollega se tuinpaadjie af. As hulle maar net weet van die lekkerte wat wag! Ons lui die voordeurklokkie en sommer met die intrapslag bring ons die bottel te voorskyn... "Merry Chrismas!". Maar instede van opgewonde glimlagte word die bottel begroet deur vraagteken-fronse wat wys dat ons goedbedoelde boere-kleinood hulle totaal en al uitgeboul het. Die skok, verwarring en afgryse op ons arme gasheer en gasvrou se gesigte sal ek nooit vergeet nie. Tussen vervaarde verduidelikings van "dried, raw meat" en "it's really quite good" het ek daardie dag besef dat nie alle hartsgoed ooit deur ander verstaan of waardeer sal word nie. En dis tog doodnormaal. Dis dan júís wat kultuurverskille is en vorm 'n onafwendbare en totaal verwagte deel van immigrant-lewe. Die geheim (en uitdaging?) bly dan seker om dié dinge wat vir jóú boere-hart kosbaar en spesiaal is, te bly koester, terwyl jy ook ruimte te gee en aanvaar dat ánder dinge weer vir ánder harte kosbaar en spesiaal is...?
'n Week later, toe huis-oppastyd uiteindelik aanbreek, het ons die biltong-bottel eensaam en verworpe diep in 'n donker hoekie agter in die kollega se yskas ontdek. Onoopgemaak en onaangeraak. En vóór in die yskas? 'n Half-opgesmulde boks donkersjokolade. Nota aan myself: Koop volgende keer die donker tjoklits...!
Ai siestog vir sy ma! As hulle maar net geweet het...! Xxxxxx
AntwoordVee uitHeheeeee! Het seker maar op die ou-end (peperduur) troeteldier-snacks geword... So leer ons, my liefste suster...! xxxxxxx
AntwoordVee uit